LiG Desember 2016

Lees in Desember/Januarie-uitgawe van LiG ...

... leer ons die ware Jesus van Kersfees ken. Ons vind ook uit hoe Kerskaartjies verander het van toeka tot nou. En gesels met ouers van gestremde kinders, en die seën wat hulle bring.

Drie Binnelanders-aktrises, Kim Cloete, Je-ani Swiegelaar en Cindy Swanepoel vertel hoe elkeen van hulle vanjaar Kersfees vier.

LiG sê basta met nuwejaarsvoornemens! Kies eerder dié waardes vir jou gesin. Ons gee ook prettige planne vir gesinne wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie moet ry, en vind by kundiges uit wat die beste troeteldier vir jou gesin is.

Kom kuier saam met ons by Tannie Wielie Walie. En kom leer ‘n paar lewenslesse by ‘n besonderse kerkplanter.

Elke LiG-leser ontvang ook spesiale inkleur- Kerskaartjies in hierdie uitgawe van LiG.

2016.12

LiG November 2016

Lees in die jongste uitgawe van LiG ...

“Reis ligvoets en in eenvoud saam met God,” sê Lindie Strydom in die November-uitgawe van LiG.

Ons put ook inspirasie uit ʼn ouma se verhaal wat steeds van God se goedheid getuig, ten spyte van haar kleinkind se kanker.

Kry LiG se 10 gebede om vir jou lewensmaat te bid. En tel die dae af na Kersfees met spesiale gesinsprojekte vir Advent.

Onthou ook van LiG se spesiale gespreksgids vir selgroepe wat elke maand verskyn.

LiG vir jou en jou mense.

2016.11

LiG Oktober 2016

Lees in die Oktober-uitgawe van LiG...

LiG se spesiale gespreksgids vir kleingroepe word in Oktober-uitgawe bekend gestel!

Donnalee Roberts vertel daarin hoe stories haar bekoor. Ons vertel ook Luvo Manyonga se storie van verslaafde na Olimpiese silwer, en van ʼn wonderwerk-man se dubbele longoorplanting.

Oktober is kankermaand en LiG gee inligting oor nuwe genetiese toetse vir kanker en wenke vir mooimaak ná chemoterapie.

LiG gesels met ouers en onderwysers laerskool-leerlingrade – is dit ʼn noodsaaklikheid of ʼn klug? Ons praat met teoloë oor hoe om aan te hou hoop wanneer die lewe se stormwaters dreig. En vra ook of ʼn huwelik ná ʼn affair ʼn tweede kans werd is.

LiG – vir jou en jou mense

2016.10

LiG September 2016

Lees in die September-uitgawe van LiG ...

“Jesus is koning!” eggo elke storie in die September-uitgawe van LiG.

Van Gretha Wiid wat vertel hoe sy haar dogters van dapperheid, sagtheid en geloof in God leer. Tot die Paralimpiese atleet wat getuig hoe God dit vir hom maklik maak.

Lees oor ʼn mannegroep se bediening onder karwagte, en ʼn projek wat matriekafskeid-drome waar maak.

Ons verduidelik waarom inentings broodnodig vir jou kind is, en watter vaardighede jy vir jou kinders kan leer om gelukkige grootmense te word. Daar is ook raad vir jou leë beursie, jou begroting en besteding.

LiG vertel hoe God bedoel het die huwelik moet wees. En hoe die Bybel sê ons vir ons land en sy leiers moet bid.

Ons idees-met-hart-projek gee maklike planne vir ʼn groenteplasie in ʼn piepklein spasie.

2016.09

LiG Augustus 2016

In LiG se Augustus-uitgawe

Wonder jy hoe God se koninkryk hier op aarde lyk? – lees in LiG se Augustus-uitgawe oor God se heerskappy in en om ons. Kry ook raad oor hoe om te blom waar jy geplant is.

Gaan loer na ons handige handsakprojek, en gee só terug aan jou gemeenskap.

Lees oor ʼn Karooboer wat sy depressie met konfytkook getem het en ʼn Nepalese sendeling wat die evangelie in die Himalajas bring.

LiG gee ook raad met jou hardkoppige kind, en kies Bybelverse wat jy vir jou kind kan bid. Hanteer dit só as jy en jou man op verskillende geestelike golflengtes is.

Die kersie op die koek is geliefde sangeres, Elizma Theron wat haar babaseuntjie in die jongste LiG wys. En die man wat sy lewenstorie van ashoopdae tot die skryf van sy eie fliek, vertel.

LiG – vir jou en jou mense.

2016.08

LiG Julie 2016

Lees in die Julie-uitgawe van LiG:

Hanna Grobler wys God se hart vir swaarkrymense en vertel ons hiervan in die jongste LiG. Sorina Erasmus glimlag trots oor haar babadogtertjie in ʼn eksklusiewe reeks foto’s vir LiG.

Predikant Barend Vos gee woorde vir ons gebede met sy boek uit Psalms.

Kry jou dissiplinegids vir moderne ouers, leer hoe ʼn omgee-gesin leef en kry wenke vir ʼn gesonde tweede huwelik.

Kom ontdek saam hoekom ons God as Vader, Seun en Heilige Gees aanbid. En stap saam op ʼn man se ontdekkingstog van God se genade ná sy kankerdiagnose.

LiG – vir jou en jou mense.

2016.07

LiG Junie 2016

In LiG se Junie-uitgawe

Kom leer van God binne ons – hoe om jou kind die vrug van die Gees te laat leef en wat die Bybel oor die gawes van die Gees sê.

Die sangeres, Corlea Botha, vertel hoe sy en haar ma saam droom, en LiG gesels met Theunis Nel oor God se liefde en versorging na sy motorfiets-ongeluk.

Ons noem die vyf dinge wat vertroue in jou huwelik kan verwoes, en vra of gemaksones gerieflik of gevaarlik is. En hoe maak jy as jou volwasse kind nog by julle woon?Leesook oor ʼn maklike uitreikprojek wat jy en jou gemeente hierdie winter kan aanpak. En kry idees vir oulike geskenke uit jou kombuis.

LiG – vir jou en jou mense. Te koop vanaf 16 Mei 2016.

2016.06

 

LiG Mei 2016

In LiG se Mei-uitgawe kuier ons by die geliefde Carike Keuzenkamp, Sonja Herholdt en Rina Hugo.  

Ons dink oor Hemelvaart, en waarom dit vir Christene belangrik is. Beleef ook saam met die dissipels daardie laaste oomblikke van Jesus se lewe op aarde.

Kry raad vir nuwe ma’s se kwelvrae – van poedingbrein tot skuldgevoelens. En lees oor hoe om vir jou kind ankers én vlerke te gee.

LiG – vir jou en jou mense. 

2016.05

Om in te teken op LiG, klik hier.

LiG April 2016

In die April-uitgawe van LiG dink ons na oor waarom Jesus se opstanding vir ons belangrik is. En ons gee Bybelse idees vir ʼn vreugdevolle Paasfees.

LiG gesels ook met ʼn ma van ʼn vierling, Marié Janse van Rensburg oor hoe hulle die lewe met hul vyf kinders aanpak.

Lees ook hoe julle lank én gelukkig getroud kan wees. En hoe jy vir jou hartsmense ʼn rusplek kan wees.

 

Om in te teken op LiG, klik hier.